"Should a person who has shared her home and life with her deceased partner, born and raised children with him, cared for him in health and sickness, and dedicated her life to support the family they created together, be treated as a legal stranger to his estate, with no claim for subsistence because they were never married?" het Regter Sachs gevra in 'n vorige hofsaak in die Grondweghof.
VOLKS vs. ROBINSON
In die aanloop tot die saak het die howe vir mense van dieselfde geslag verskeie regte toegeken, soos ondermeer dat hull intestaat van mekaar kon erf.
Die howe se argument was hoofsaaklik dat as jy kan trou dan het die huwelik van regsweë huweliksmaats toegelaat om intestaat van mekaar te erf en ook toegelaat dat die langslewende gade onderhoud van die boedel kom erf. Partye van dieselfde geslag wat in 'n permanente saamwoonverhouding was, was nie toegelaat om met mekaar te trou nie en daarom het die howe die Grondwet gebruik om vir hulle regte te gee asof hulle "getroud" was.
Die Grondweghof is in 2005 gevra om te besluit of mans en vroue wat saamwoon, intestaat (sonder 'n testament) van mekaar kan erf as hulle nie wettig getroud is nie. Op daardie stadium was die "Civil Union Act" nog nie gepromulgeer nie, maar almal het geweet dit sou binnekort deel van die huweliksreg in Suid-Afrika uitmaak. Dit sou beteken dat mense van dieselfde geslag ook nou 'n keuse sou hê om hulle verhoudings formeel te maak (nes 'n huwelik). Die hof het egter beslis dat mans en vroue wat permanent saamwoon en wat nie getroud is nie, nie van mekaar intestaat mag erf nie.
Die Grondwethof se uitspraak oor saambly het gevolge vir Erfreg
BWANYA vs. MASTER OF THE HIGH COURT, CAPE TOWN
Die Grondwethof word 16 jaar later, in 2021, weer gevra om te beslis of mans en vroue wat permanent saamwoon intestaat van mekaar kan erf en ook die langslewende gades in die verhouding onderhoud mag eis van die boedels van die afgestorwe gade.
Hoe weet jy persone is in `n permanente saamwoonverhouding?
Die hof beslis dat dit nie `n moeilike vraag is wat beantwoord moet word nie en dat die partye getuienis kan lei om te bewys hulle permanent saamwoon. Die partye bly gewoonlik vir `n tydperk in dieselfde huis, het kinders saam, stel hulle self voor aan familie vriende as gades, party het selfs een of ander seremonie voor familie en vriende en sal die partye wedersyds onderneem om mekaar te onderhou. Laasgenoemde is belangrik omdat dit nie noodwendig beteken dat geld geruil of gegee word vir mekaar nie, maar ook kan beteken dat as een byvoorbeeld siek is, versorg die ander persoon hom/haar.
Wat nou van die huwelik?
In die vorige saak was die argument dat mense kan kies om te trou, aldan nie, en dat die huwelik `n belangrike instelling is wat in die reg erken word. Die hof beslis dat die huwelik nog steeds `n belangrike instelling is en om erkenning te verleen aan saamwoonverhoudings doen nie afbreuk aan die huwelik as instelling nie. Dit is egter onregverdig, om mense wat permanent saamwoon asof hulle getroud, nie toe te laat om te deel in die boedels wat hulle saam help opbou het, bloot omdat hulle nie getroud was nie.
Die wet op die Onderhoud van die Langslewende Gade 27 van 1990
Indien een van die huweliksmaats te sterwe kom word die langslewende toegelaat om in terme van die wet op die Onderhoud van die Langslewende gade, onderhoud te eis van die boedel van die afgestorwene. Die argument was dat huweliksmaats by die afsterwe van een, `n onderhoudseis teen die ander se boedel het, en daarom moet permanente saamwoonverhoudings tussen mans en vroue nie erken word nie.
Die probleem vir die argument is dat die Suid Afrikaanse gemenereg, nie die reg van huweliksmaats om by afsterwe van mekaar se boedels onderhoud te eis, erken nie. Die onderhoudsverpligting tussen gades word beëindig by die afsterwe van een van die gades.
Die wetgewer het bogemelde wet geskep om eise vir die langslewende gade teen die boedel van die ander gade by afsterwe moontlik te maak. In die verlede is persone van dieselfde geslag wat in permanente saamwoonverhoudings is, toegelaat om in terme van hierdie wet, onderhoud te eis van die boedel van die afgestorwene. Die hof beslis dat dit onregverdig is, dat mans en vroue wat in permanente saamwoonverhoudings is, nie `n eis vir onderhoud, in terme van bogemelde wet, teen die boedel van die afgestorwene kan instel nie.
Die wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987
Persone van dieselfde geslag kan alreeds intestaat van mekaar erf in terme van hierdie wet. Die argument was dat persone van dieselfde geslag, wat permanent saamwoon, vantevore (en nog steeds) blootgestel was aan diskriminasie deur die gemeenskap, en dit die rede is waarom hulle intestaat kan erf. Die hof wys daarop dat veral vroue in permanente saamwoonverhoudings ook blootgestel is en veral ekonomies swaar kry. Dit sal onregverdig wees om mans en vroue in permanente saamwoonverhoudings uit te sluit van die bepalings van die wet.
Slotsom
Die hof beslis dat beide die wet op die Onderhoud van die Langslewende Gade en die wet op Intestate erfopvolging ongrondwetlik is en gelas dat die wetgewer die gebreke in die wette moet regstel binne 18 maand. As die wetgewer nie die regstellings maak nie sal die woorde in die hof se bevel ingelees word by die wette, wat dit moontlik sal maak vir mans en vroue in permanente saamwoonverhoudings, om by die afsterwe van die een, te erf en ook om onderhoud te eis van die afgestorwene se boedel.